Sondag sit ons aan die etenstafel toe die opmerking gemaak word dat “dit eintlik ‘n kompliment is as jou vriende jou uithaal want hulle weet jy kan dit vat.” Die stelling opsigself laat my dan wonder, plaas ons die onus op die teikens van ons spot? Hy of sy moet sterk genoeg van karakter wees om ons woorde met goeie grasie en ‘n laggie te ontvang. Die saam lag is ook tog só belangrik want wie wil dan ‘n nat vadoek in die vriendekring wees?

Tog staan daar in Psalm 1 geskrywe dat dit goed gaan met die mens wat nie met ligsinniges saamspan nie. Die Amplified stel dit soveel sterker: “... nor sits down to relax and rest where the scornful and the mockers gather.”

Ons kan weliswaar argumenteer dat daar ‘n verskil is tussen ‘n goedhartige gespot tussen vriende en om met kwaadwilligheid met iemand die spot te dryf. Komediante maak immers ‘n bestaan daaruit om te spot met mense en gebeure rondom ons. Elkeen van ons wat al ‘n seminaar of motiveringspraatjie bygewoon het weet hoe effektief humor kan wees om ‘n emosionele reaksie by mense uit te lok. Dit is juis daardie emosie wat ons nodig het om dinge te onthou. Die brein neem kennis waneer ons emosie ervaar en vorm herinneringe.

Dit is egter hierdie onthou wat ons rugsak van spot al swaarder maak. As hoërskoolkind is ek oor my tande gespot en, hoewel my glimlag die één ding is waaroor ek die meeste gekomplimenteer word, sal ek nog steeds dikwels my hand voor my mond plaas indien ek lag. ‘n Kollega is nou die dag gespot omdat hy “seker skelm bier drink in die yskas” natuurlik het almal hartlik daroor gelag want dit is dan net ‘n grappie – of is dit? Die saadjie van agterdog is nou gesaai. Het iemand dalk onlangs jou man of jou vrou gespot oor hulle laat aande by die werk? Hopelik is dit nie eersdaags jou verjaarsdag en hulle gaan soek vir jou ‘n parfuum nie want jy gáán twee keer wonder oor die reuk wat aan hulle klere hang.

Elkeen van ons het daardie af dag en die grappie wat al ‘n honderd keer oor jou gemaak is en wat jy ‘n honderd keer gedink het baie snaaks was, het een dag, na die argument met jou baas of die slegte nuus by die dokter, ‘n vlymskerp lem. Indien jou vriend ‘n melankoliese persoonlikheid het, sal hy of sy saam lag (glo my, ons is baie bewus van ons swakhede) maar agterna vir ure of selfs dae gaan tob oor wat gesê is.

Ek het een maal na ‘n optrede van Nataniel gaan kyk en gelê van die lag oor sy spot met die familie in die Paarl. Dit was in menige opsigte ‘n raak beskrywing van vakansies by my Pa se suster en dit was, wel, baie snaaks. Ek kan egter nie help om te wonder of ek nog so sou gelag het as my pa langs my gesit het, en of ek sou seerkry vir sy part?

Salomo skryf dat vriende mekaar vorm maar waarsku dat ons versigtig moet wees met wat in ons harte omgaan aangesien dit ons hele lewe bepaal. Moet ons dus nie juis, teenoor daardie mense wat vir ons lief en dierbaar is, ons toespits op alles wat edel en rein en prysenswaardig is nie? Waarom sal ons dan iets, wat ons nie eens aan ons vyande sal doen, sien as aanvaarbaar vir ons vriende?

Volgende keer, voordat ons net ‘n ou grappie maak, moet ons dalk dink aan Jesus se woorde in Mattéüs 12:36 “Van elke ligsinnige (ydele) woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag.”

Die man wat my, met passie vir 'n taal, leer lied uit woord en letter haal..

My broer, in ‘n huldeblyk aan my pa, skryf dat ons geleer het dat dit nie nodig is om ‘n kort woord te gebruik waar ‘n mooi woord sal doen nie.

Woorde kan toor en dikwels is dit juis in die idioom waar taal op sy rykste is. Dit is ook dikwels dié plek waar ‘n volk se kultuurerfenis die sterkste deurskemer. So is die eerste uitrukking wat ek in Sotho geleer het dat, om die onmoontlike te vra, is om na die voete van ‘n slang te soek.

Vêr van die huis, swerf ek laas jaar in die buiteland rond toe ‘n vriend ‘n video van Die Heuwels Fantasties op Facebook plaas. Ek sou jok as ek nie beken dat hierdie jong manne, met hul baie moderne musiek, my nie beïndruk het nie. Hulle maak intelligente musiek, ryk aan uitdrukking en woordspel sonder nikseggende refreine wat tot vervelens toe herhaal word! Kyk byvoorbeeld na die lirieke van “Pêrels En Lewensredders”:

Ek het nog altyd gedink dat my laaste asem
sal nie ‘n ernstige gebeurtenis wees nie
die heildronk
‘n vol hart rol uit by die mond
gespe my vas by die ruit
ons sal hard moet ry as ons daar wil uitkom
of rol die film net agteruit
dis in elk geval my herinnering
die ter aarde verassing
op die rug van die wind wat my gedagtes kon verander
herwinbare organe
lankal oorgedra en uitgeplant
waarvan die hart van vol is rol uit by die mond
ons sal mooi na mekaar moet kyk
as ons hier wil uitkom
dis in elk geval ‘n vae herinnering
‘n leë hart rol uit by die mond
en op teen ‘n leer
hoe hoog is ‘n hoë genoeg lewensredderstoel
ons val uitspattig soos pêrels
skynbare pêrels
op ‘n strandvloer
want dis maklik om te vergeet
dat die bed wat jy maak
is die een waarin jy nou moet slaap
kom ons speel langs ‘n afgrond
daar waar die Kaap van Goeie Hoop twee blou damme laat kopstamp
dit bly maklik om te vergeet
dat die bed waar jy slaap die een is wat jy weer moet opmaak

Elke dan en wan kom daar ‘n boek oor jou pad waar ‘n outeur meesterlik jou meesleur met hul woorde. Om met taal te kan toor soos Eben Venter in “Ek Stamel, Ek Sterwe” is voorwaar ‘n gawe wat in min skrywers se broek sit. In “Fugitive Pieces” van Anne Michaels, gebruik sy taal so ryk dat jy vir ‘n oomblik ophou lees net om rond te dobber in haar woorde en kan jy maklik verstaan dat sy eintlik poësie skryf. Heimlik hoop ek, elke keer as ek ‘n boek oopslaan, dat die outeur my sal meevoer soos hierdie meesterlike skrywers.

Ons leef in ‘n tyd waar ons afkortings en leestekens gebruik om ons daaglikse wel en weë te deel en dit is ‘n riem onder die hart dat daar nog woorsmede in hierdie wêreld is sodat, dit waarvan hul harte vol is, kan uitrol by hul mond.

Mag ons nooit ingee aan middelmatigheid en skroom om ‘n mooi woord te gebruik waar ‘n goeie sou doen nie.

My pa skryf in sy (tot nou toe ongepubliseerde) boek dat hy stap omdat “die berge daar is, omdat die veld so boordensvol lewe is en dit my ongekende plesier verskaf om te stap, om waar te neem wat daar waar te neme is en ‘n antwoord te probeer gee op die vraag: Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen? Ek stap omdat daar nog krag in my ledemate is, ek stap om die groteske rotsformasies, om die asemrowende vergesigte bo van die berge af, om die wonderlike plant- en dierelewe, om die goudmyn van ruines, veewerwe, sleepaaie en wapaaie oor die berge na onherbergsame bestemmings waar vorige geslagte meestal groot gesinne grootgemaak het – sonder geriewe en met baie ontbering. Ek stap uit eerbied vir hulle en uit eerbied vir die Here wat alles gemaak het, en wat ons as rentmeesters aangestel het.

Sy woorde eggo in my. Daar is soveel mooi op hierdie aarde as ons maar die oë het om dit raak te sien.  Fotos vertel immer stories. Dit herinner ons aan dinge wat was, ervarings wat ons geleef het, plekke wat ons hart warmer laat klop, mense wat ons liefhet…

Fotos laat ons stilstaan in dankbaarheid. Dat ons juis dáár was. Die oomblik van ons kind se eerste tree, die wolke wat ‘n sluier oor die berg getrek het, ‘n skaars glimlag op ‘n gesig, die uitbundigheid van vriende wat feesvier of die liefde tussen twee mense.

Soms kyk jy na ‘n foto en kan sensories terugkeer na daardie oomblik. Jy ruik weer die see, die brandersproei op jou vel voel prikkel, hoor jou geliefde se lag en jou mondhoeke trek onwillekeurig in ‘n glimlag.

‘n Foto herinner ons aan ‘n oomblik in tyd wat God net aan ons geskenk het.

Kerjaantjie

Kerjaantjie se Kalender

Augustus 2017
M D W T V S S
« Mei    
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  

Kerjaantjie praat oor…